|
BIODIVERSITEIT WENKE VIR PRODUSENTE |
|
As deel van die Right Rooibos ondersteuning- en inligtingsdiens, word hierdie hoofstuk van ons webwerf toegewy aan praktiese wenke vir die boer. (Dit vorm ook deel van elke uitgawe van die SA Rooibos Raad se nuusbrief om te sorg dat produsente lede wat nie gereelde toegang tot die internet het nie, dit ook kan benut.)
Natuurlike Stroke:
Waar natuurlike stroke tussen Rooibos stroke op lande gebruik word moet die stroke nie minder as 10m wyd wees nie en in winderige areas verkieslik meer as 20m. Dis nie wetenskaplik bepaal nie maar wel gebaseer op ondervinding en waarneming. Die rede is iets wat ons noem “rand effek”. Die rand tot ‘n sekere diepte in die natuurlike strook in word beïnvloed deur die “kaler” toestande langsaan, bv. wind en vog, saadproduksie, skaduwee, temperatuur en ekosisteem funksionering. Hoe smaller die strook hoe kleiner is die natuurlike “kern”-area wat die strook in staat stel om vanself voort te bestaan. Let self op hoe smal stroke in baie areas eenvoudig van ‘n kant af krimp en mettertyd verdwyn, en die nuttige rol wat dit speel om winderosie te bekamp en habitat vir nuttige organismes te verskaf is dan verlore.
Korridors en konnektiwiteit:
‘n Korridor is ‘n aaneenlopende strook natuurlike plantegroei wat oor die hele landskap strek. Wetenskaplikes stem saam dat genoeg sodanige korridors die beste manier is om plant- en dierespesies teen versnelde klimaatsverandering te beskerm. Baie spesies is by spesifieke omstandighede aangepas en hulle verspreiding hang af van byvoorbeeld temperatuur, vog, grond, wind, teenwoordigheid van ander lede van ‘n soortgelyke spesie vir voortplantingsdoeleindes, teenwoordigheid van ander spesies (dink bv. aan bye wat bestuiwing van plante verseker) ensovoorts.
Selfs die hoeveelheid lig en skaduwee kan bepaal waar ‘n spesie voorkom. Wanneer daardie omstandighede verander, bv. met klimaatverandering, is ‘n spesie se enigste opsie om te beweeg, en die beste kans om te beweeg, is deur ‘n natuurlike korridor. Spesies wat so bewaar kan word, hou vele voordele in deur bv. by te dra tot bestuiwing en boonop help natuurlike plantegroei om grondvog te bewaar, wind te breek en erosie te bekamp. Die ideaal is dat produsente waar moontlik korridors van ten minste 100m wyd behou. Korridors kan ook hervestig word deur rehabilitasie. Die beste korridors loop teen hellings op en oor verskillende plantegroeitipes heen. Riviere, strome en vleilande (selfs dié wat seisoenaal is) en die natuurlike plantegroei op hulle oewers is ook uitstekende korridors. |
|
|
|
|
|